Jesus Christus in die OT

Wanneer ons die Bybel bestudeer, ervaar ons soms frustrasie, hierdie frustrasie word gebore uit die realiteit dat ons nie n omvattende greep op die totale boodskap en veral die Ou Testament kan kry nie. Baie gelowiges skram dus weg van die Ou Testament en is meer gefokus op die Nuwe Testament. Die waarheid egter is dat die Nuwe Testament baie meer sinvol word wanneer die verlossings plan van God vanuit die hele Bybel verstaan word.  Die inhoud van die Ou Testament verleen bydraende substansie en diepte tot die Nuwe Testamentiese openbaring.

Jesus het die belangrikheid en die impak daarvan beklemtoon met Sy gesprek met die Emmausgangers. En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het. Luk 24:24. Die resultaat vanweë hierdie eksegese was En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie? Luk 4:32. Verder het Hy ook vir die ander dissipels die belangrikheid onderstreep deur die volgende “En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. Luk 24:44-45.

Jesus beklemtoon die openbaring in die Ou Testament aangaande Hom. Indien ons derhalwe glo dat die hele skrif deur God ingegee is (2 Tim 3:16) dan moet ons verder aflei en aanvaar dat Jesus Christus die enkelvoudige saligheidsfokus van die hele Bybel is. Wanneer ons dit erken sal ons begrip en eerbied vir die Skrif drasties toeneem.

As Bybel lesers het ons nodig om die verhouding tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament te verstaan. Jesus Christus is die sleutel tot die ontsluiting van die Ou Testament om sodoende ʼn geheelbeeld van die saligheidsplan van God te sien. Die Bybel is Christus gesentreerd, dit is waar van die Nuwe Testament sowel as die Ou Testament.  En om ons geloof en begrip uit te bou het ons nodig om dit na te vors.

“Christ dominates the whole revelation [of the Bible]. This is not imaginative, but real; it is not a wishful theory, but a satisfying fact. The evidence of the fact is manifold, and can be presented in various ways”

—W. Graham Scroggie

Die tipologie van Christus verskyn in die historiese, seremoniële en profetiese handelinge soos neergepen en geopenbaar in die Skrif.

Die belangrikheid en die noodsaaklikheid om ons kennis van die sentraliteit van Christus te identifiseer word in die volgende skrifte getoon:

dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, Ef 1:17 

totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; Ef 4:13

dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. Kol 2:2-3 

Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! 2 Pet 1:2 

Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. 2 Pet 3:18 

Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek Háb 2:14 

Ons moet besef dat die Christus gesentreerde boodskap van die Ou Testament nie bestaan uit geïsoleerde temas, losstaande profesieë, tipes en simbole wat dui op Christus nie, maar die boodskap is ʼn omvattende geïntegreerde eenheid.

Dr. Norman Geisler verduidelik dat Christus die inhoud van die kanon en die eenheid skeppende tema van elke boek van die Bybel is, Christus verleen struktuur aan die Bybel.  Wanneer die verskillende lyne wat na Christus wys nagevors word, word die sentraliteit van Christus in die kanon duidelik.[i]

Wanneer ons dan Christus soek en vind in al die verskillende wyses waarop Hy handel in die Skrif dan gebeur met ons wat met die Emmausgangers gebeur het en ons kan saam met hulle getuig “ Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie? Luk 4:32.

Soli Deo Gloria


[i] Geisler, To Understand the Bible Look for Jesus, 7.