Die doping met die Heilige Gees

n Ondersoek na talespraak as bewys van die doping met die Heilige Gees

Die Heilige Gees is die persoon van die drie eenheid wat in die gelowige woon. Hierdie waarheid word algemeen erken en geglo in verskillende christelike denominasies.

Daar is egter heelwat verwarring rakende die werk en teenwoordigheid van die Heilige Gees in die gelowige, verwarring as gevolg van die verskillende terme wat gebruik word om die veelvoudige funksies van die Heilige Gees in en vir die gelowige te beskryf. Die terme soos – die Heilige Gees in die gelowige, die doping van die Heilige Gees en die vervulling van die Heilige Gees, gee aanleiding tot hierdie verwarring.

Die Doping met die Heilige Gees

Die pentikostale en charismatiese denominasies gebruik die uitstorting van die Heilige Gees soos dit beskryf word in die Handelinge van die apostels as die model wat gevolg moet word vir die werking van die Heilige Gees vir die gelowige in die kerk vandag.

Die klassieke lering word as volg omskryf:

Dit is n tweeledige proses.

Die eerste ervaring is wanneer die Heilige Gees met wedergeboorte in die gelowige kom, as eerste enkelvoudige gebeurtenis. Deur Jesus Christus gee die Heilige Gees nuwe lewe.

Die tweede additionele ervaring is die doping van Die Heilige Gees waar die gelowige bemagtiging en toerusting ontvang vir diens en die bewys van die doping in die Heilge Gees is die spreke in tale.

AGS geloofsbelydenis: – uittreksel

  • ONS GLO in die Heilige Gees, waarlik God, wat van die Vader en die Seun uitgaan en die wêreld oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel en ons lei in die volle waarheid. (JOH:15:26; JOH:16:7-8; JOH 16:13
  • ONS GLO in die doping met die Heilige Gees, soos belowe aan alle gelowiges, waarvan die aanvanklike teken die spreke in vreemde tale is. Ons glo aan die manifestering van die gawes en vrug van die Heilige Gees in die lewe van ‘n Christen. ‘n Christen is ‘n dissipel van Jesus Christus en moet ‘n lewe van toewyding en heiligheid hê. (MAT 3:11; HND 2:38-39; HND 2:4; MAT 3:11; GAL 5:22; 2KO 7:10)

Volle Evangelie Kerk Geloofsbelydenis: – uitreksel

  • Wedergeboorte of die nuwe lewe, en die doop van die gelowige deur die Heilige Gees in die liggaam van Christus
  • Die inwoning deur die Heilige Gees in die gelowige.
  • Die doop van die gelowige in die Heilige Gees en die aandoening met krag vir getuienis en diens deur die verrese verheerlikte Christus, as belofte van die Vader.
  • Die uiterlike teken van spraak in ander tale soos die Gees gee om uit te spreek as aanvanklike skriftuurfike bewys van die gelowige se doop in die Heilige Gees.
  • Die negevoudige vrug van die Heilige Gees in die lewe van elke wedergebore gelowige.
  • Die negevoudige openbaring van die Heilige Gees en die volle Charismatiese toerusting van die gelowige met geestelike gawes vir diens.

Die denominasionele geloofsbelydenis uitreksels toon die invloed van die genoemde model.

Die interpretasie van die pinkster gebeure is as volg:

  1. Die belofte van die uitstorting van die Heilige Gees soos verwoord deur Jesus en die skrif.
  2. Die uitstortings gebeure van Handelinge 2 en Petrus se toespraak en verwysing na die uitstortings gebeurtenis.

Hierdie gebeure word geinterpreteer as n enkelvoudige gebeurtenis met n bepaalde gevolg en hoewel die uitstorting enkelvoudig en eenmalig is word die gevolg herhaal. Dus wanneer die gevolg van die uitstorting in Handeling 2 onderandere die spreke in tale is, word dit herhaal met die Samaritane (Hand 8:)- alhoewel die spreke in tale nie gesê word nie is dit afleibare weens dieselfde taalgebruik wat in die verskillende gedeeltes gebruik word , dan volg die hoofman Cornelius (Hand 10:44-47) en die heidene van Efese (Hand 19:1-6). Derhalwe moet dit ook vandag so gebeur. Dus die bewys van die doping van die Heilige Gees is die spreke in tale.

n Alternatiewe interpretasie van die pinkster gebeure

Die OT het n duidelike nationale saligheids fokus nl. die Jode. In die NT word dit verander tot n internationale fokus. Dit word weerspieel vanaf die naam van die saligmaker tot die missionere aksies van die kerk. Wanneer die naam van die redder aangekondig word is dit nie n Hebreeuse naam nie maar n Griekse naam – nie Jeshua nie maar wel Jesus- wat aanduidend is dat die redder vir die wereld gekom het. Wanneer Jesus vir sy dissipels se om te wag in Jerusalem tot die Heilige Gees uitgestort is doen hy dit met n opdrag om die evangelie te verkondig vanaf Jerusalem tot aan die eindes van die aarde. Dus vanaf die Jode tot alle nasies.

Die pinkster gebeure volg derhalwe dieselfde patroon. Die uitstorting van die Heilige Gees op die dag van pinkster was die eerste stap. Dit vind plaas in die plek van die Jode en sluit dan hoofsaaklik die Jode in. Die spreke in ander tale was aanduidend dat die evangelie internationaal is. Hierdie mense groepering was gefokus op die Jode wat geglo het dat hulle die nageslag van Abraham was, die wet onderhou en suiwer was. Hulle was in beheer van die tempelbediening.

In Hand 8: word die evangelie aan die Samaritane verkondig. Die mense groepering was volgens die Jode nie suiwer nie – in bloed of geloof – maar het wel n sekere bloedverwantskap en geloofsoortuiging gehad wat korrespondeer met die van die Jode. Die pinkster gebeure op soortgelyke wyse as die aanvanklike uitstorting toon hulle word ingesluit.

In Hand 10 sien ons die volgende groepering van mense. Die hoofman Cornelius wat die beeld van hierdie groepering. Dit was heidene wat die Joodse geloof aangeneem en beoefen het. Geen aanspraak op bloedverwantskap met Abraham nie, maar wel die geloofsoortuiging. Hulle word ingesluit in die pinkster gebeure.

In Hand 19 doen Paulus sendingwerk in Efese en alhoewel hulle deur die prediking van Johannes die doper tot bekering gekom het en Paulus hulle in die Sinagoge bedien het, verteenwoordig hulle die groter heidense groepering. Hand 19:10En dit het twee jaar lank geduur, sodat al die inwoners van Asië die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke.”

Dus wanneer die pinkster gebeure in n sekere mate herhaal word in hierdie gedeeltes is dit aanduidend van die inkorporering van n sekere groepering van mense eerder as n patroon van gebeure van die doping van die Heilige Gees. Die spreke in tale by elke geleentheid is aanduidend dat die evangelie internationaal is en nie by een groep alleen tuishoort nie. Elke groepering kry die boodskap dat die evangelie vir alle mense is.

Die spreke in tale

Daar is n duidelike onderskeid in die spreke in tale soos dit plaasgevind het met die ontwikkeling van die pinkster gebeure sowel as Paulus se hantering daarvan as n genadegawe in 1 Kor 12 en die tale soos Paulus dit in 1 Kor 14 beskryf.

In 1 Kor 12 verduidelik Paulus die genadegawes en klem word veral gele op die soewerieniteit van die Heilige Gees in die werking van die gawes. Daar is n tyd en plek en funksie vir die gawes en die een wat dit beheer is die Heilige Gees. Hoewel die gelowige die instrument is, is dit die Heilige Gees wat bepaal hoe en of dit gebeur.

In 1 Kor 14 verduidelik Paulus breedvoerig die gebruik van die genagegawes in die erediens. Aan die hand die gebruik van genadegawes soos tale, die uitleg van tale en profesie in die erediens lê Paulus beginsels vas vir die gebruik van die genadegawes in die erediens. Dit moet ordelik en tot stigting van die gemeente wees. In 1 Kor 14 is daar n duidelike klem verskuiwing vanaf die soewereiniteit van die Heilige Gees na die beheer van die gelowige in die operering in die gawes. Die oorhoofse beginsel van – met die oog op wat nuttig is – word wel behou.

Paulus fokus dus wel op die nut van die spreke in tale vir die gelowige.

1Co 14:2 Want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.

1Co 14:4 Hy wat in ‘n taal spreek, stig homself;

1Co 14:5 Ek wens dat julle almal in tale spreek

1Co 14:13 Daarom moet hy wat in ‘n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê.

1Co 14:14 Want as ek in ‘n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar.

1Co 14:15 Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.

1Co 14:17 Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie.

1Co 14:18 Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal;

Die skrifgedeeltes toon baie duidelik Paulus se beskouing oor die nut van tale en dat hyself in tale spreek. Die skrif toon duidelik die voordeel van tale. Weens die voordele daarvan sou die afleiding wees dat die Here hierdie gawe aan almal sal gee. Hy doen egter nie en Paulus maan die gelowiges om te beywer vir die gawes.

Daar is egter genoegsame skrif bewyse wat duidelik aantoon dat dit nie vir almal is nie, dit is beslis nie n bewys van die doping in die Heilige Gees nie. Die volgende skrifte toon duidelik dat die spreke in tale in watter vorm ookal nie beskore is as reel vir alle gelowiges nie.

1Co 14:5 Ek wens dat julle almal in tale spreek.

Paulus sien die nut van tale en spreek sy begeerte uit maar weet dit is nie vir almal nie.

1Co 12:29 Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal is tog nie kragte nie?

Paulus se argument is dat almal nie in al die gawes opereer nie.

1Co 12:30 Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê?

Paulus se retoriese vraag – die antwoord is nee op elke vraag.

1Co 14:5 Ek wens dat julle almal in tale spreek, Paulus verwoord sy begeerte maar, die verwoording is self antwoord dat almal nie in tale praat nie.

Dus wanneer na die skriftuurlike bewyse gekyk word is dit duidelik dat talespraak nie n bewys is van die doping in die Heilige Gees nie. Ons moet saam met Paulus stem daar is bepaalde voordele en ons kan sy wens deel dat almal dit behoort te he maar ons moet staan by wat die skrif daaroor leer.